Saturday, January 30, 2010

'n Asemrowende 125 km stap deur onaangeraakte natuur . . .

Hier volg my beskeie poging om in woorde te probeer weergee wat ek beleef het tydens ‘n sewe dae "trek" deur Damaraland. Dit was ten bate van die noodsaaklike satellietnekband-projek vir die olifantbulle hier in een van die laaste wildernisgebiede in die wêreld – die noordwestelike deel van die Namibwoestyn.

Elf van ons, uit Engeland, Ierland, Amerika, Namibië en ek self uit Kaapstad, het aan hierdie “trek” deelgeneem. Saam met ons het twee gidse van EHRA (Elephant Human Relations Aid) gestap. Die ondersteuningsspan het bestaan uit die Direkteur en stigter van EHRA, Johannes Haasbroeck, sy regter- en linkerhand, asook die chef op ons toer, Rachel Harris, en hulle twee assistente. Hulle was per voertuig elke dag in ons nabye omgewing, en het gesorg vir al die etes, asook elke aand se kampplek. Hulle is gesoute natuurmense wat weet hoe om sonder om die omgewing te skaad, ‘n staptoer in die woestyn weliswaar plesierig te maak.

Maar dit was warm: van 9vm tot 4nm was dit nooit minder as 30 grade Celsius nie. Jou drie liter voorraad water per dag het jy opgedrink – jy het nooit in sewe dae eers jou gesig daarmee afgespoel nie! (Johnsons kan gerus volgende keer “baby wipes” borg, want ‘n ou gebruik baie!). Die daaglikse blikke op Brandberg was ‘n konstante aansporing tydens hierdie “trek” – Brandberg is hier vir ‘n mens wat Tafelberg in die Moederstad vir jou is.

Die roete het begin aan Brandberg se voetheuwels, net noord van die “White Lady Lodge”. Dag 1 se stapafstand was weens voertuigprobleme tussen Windhoek en Omaruru, en ook later tussen Omaruru en Uis, ‘n ronde 0 km. Ons eerste aand se kamp was geseën met die vol maan se pragopkoms.

Dag 2 (23 km) het ons 7vm begin stap, soos elke hieropvolgende oggend, en vanoggend die duinevelde van die Ugapriviervallei aangedurf. Danksy goeie reën vroeër vanjaar in hierdie sub 100 mm per jaar reënvalgebied, was die gras hoog. Die Euphorbia Damarana’s (gedoop “dalai lamas” op hierdie stap) is giganties in hierdie hele streek. Die tsammas was alleenlik vandag volop – sommige stappers is wel verlei deur die spanspek reuk en - voorkoms en het met ‘n bitter smaak in hul monde verder gestap.
‘n Hoogtepunt tydens middagete was Rachel se tuisgemaakte olywe, uit die Swakopmundriviervallei. Johannes het ons vertel hoe hulle hier in Damaraland die klimaatsveranderinge begin raaksien: die vorige week het ‘n donderstorm vanaf die Skedelkus af land in gekom, in plaas daarvan dat die reën van die binneland af gekom het. Hy reken dis warm water wat tussen die koue Benguela seestroom en die kus begin inbeweeg wat dit kon veroorsaak.
Na middagete en siesta, was die landskap waardeur ons gestap het, selfs nog meer golwend, maar ook meer klipperig en met menige gebergtes in die vertes. Kort na ons aankoms by die aand se kampplek, het die volmaan weer opgekom. Om die kampvuur het ons lank gespekuleer oor die oorsaak van Namibië se “faery circles”, daardie groot ronde sandsirkels sonder enige flora of eens ‘n klippie op. Miskien verlate volstruisneste? Of ou Euphorbia Damarana’s se gewese staanplekke? Blaffende geitjies (Palmatogecko range) het mooi lawaai vir ons gemaak voor slaaptyd.

Dag 3 (21 km) het ons uit die rivierloopterrein gestap, oor geel grasbedekte duineveld, en alhoewel ons geen koedoes of renosters hier gesien het nie, was die enkele alleenlopende gemsbokke en volstruise te voet wel ‘n gawe gesig.
Met Brandberg aan ons linkerkant, en Doroskrater aan ons regterkant het ons noordwes gehou tot by die middagete rusplek. Na die welkome siesta is ons in die droë Guantagab rivierloop verder bo-oor ‘n ruwe verskeidenheid klippe en rotse – van graniet, tot slyt tot dolomiet. Die terrein word ook gekenmerk deur Commifora bome, wat lyk soos miniatuur Baobabs.
Vanmiddag het ek geleer van spoorsny: koedoe, hartbees, gemsbok, kameelperd, bergsebra, renoster, springbok en olifant- voetspore. Maar, interessanter nog, was die ontleding van mis: daar was onenigheid of ons ‘n bokdrolspoegkompetisie met kameelperdmis. of met hartbeesmis gehou het. Die diskussie is tydelik beëindig met ‘n stelling dat gedehidreerde kameelperde se mis soos die van hartbeeste lyk.
Met die volmaan vir eers verby, was die sterre vanaand hemels. Ek moes dink aan Daniel Hugo se raak gedig, Namiboloog:
“. . . en snags kyk hy van . . . se sterrewag
hoe sekuur die Skerpioen oor die uitspansel jag”.
Die kampvuurgesprekke het hierna begin diep geraak en die Mayan kalender en Nostradamus is selfs later aangeroer.

Dag 4 (26 km) het opwindend begin met die sien van vars renosterspore en ‘n gesin van vier kameelperde. Om net die voetspore te sien van een van die ongeveer 130 woestyn-aangepaste swart renosters (Diceros Bicornis Bicornis) wat nog oor is in hierdie 750 vierkante km van die noordelike Namibwoestyngebied, is ‘n gelukskoot. Ons was ook ‘n bron van groot opwinding vir ‘n klein horingaddertjie oppad in Doroskrater in. Die stap deur die 140 miljoen jaar oue vulkaniese krater was warm en taai. Hier het ons ook die oeroue Welwitchia’s (Welwitschia mirabilis) aangetref. Afgesien hierdie naam (danksy Friedrich Welwitsch (1806-1872), die Oostenrykse plantkundige), staan dit ook bekend as die "tweeblaarkanniedood" en "God se troetelplant".
‘n Akasia Erioloba het ‘n welkome ruspose in die skaduwee gebied. Daar was ook verbasend baie Tamariske (gedoop “desert dill” op hierdie stap). Die krater is alles behalwe plat binne, en na ‘n vreeslike geklim en geklouter is ons eindelik die 762 m teen die noordwestelike wand op tot heel bo. Beter panorama uitsigte oor Damaraland kan jy nie kry nie. Oppad af het ons ‘n stuk “bushman’s candle” opgetel. Die bas het soveel vog in, dit is amper soos was wanneer uitgedroog. As jy dit in die vuur brand, maak dit lig soos ‘n kers en dit ruik nes frankinscence.
Middagete was eers 3nm, en die laaste ses kilometer in die namiddag was deur opwindende vars renosterspoor terrein. ‘n Jong gemsbok het ons verras met sy ongeinhibeerde nuuskierigheid – dit was duidelik dat hy in sy lewe nog nooit mense gesien het nie.
Vanaand om die kampvuur het ons begin peins oor “die regte ding om te doen” in ons wêrelde terug in die beskawing na afloop van hierdie omgewingsvriendelike belewenis.

Dag 5 (23 km) het ek wakkergeword met die gesels van jakkalse in die verte. Vanoggend kon ‘n mens duidelik die koeligheid van die kus af begin voel, soos wat ons nader aan die Atlantiese Oseaan beweeg. Met Mikberg aan ons regterkant, en Brandberg steeds aan ons linkerkant, het ons nou ‘n 0 mm per jaar reënvalgebied betree. Maar, hier het vir die eerste keer in menige dekades vanjaar reën geval, en ook hier staan die gras geel en hoog. Ons gidse vertel van ‘n Welwitchia wat hulle onlangs hiernaby gesien het wat bykans ‘n meter bo die grond op sy wortels staan na die reën! Geen teken van enige oppervlakwater is egter meer sigbaar nie. Kort na middagete het ons op twee baie rats jong Hartmann's bergsebra hingse (Equus zebra hartmannae) tussen die graniet klipkoppies afgekom. Vanmiddag het ons ook vele interessante rotse en klippe gesien soos ons verby ‘n versteende woud gestap het. Die uitstalling klippies op die plein waaroor ons gestap het, het omtrent ‘n mooi woestyn mosaiek gemaak.
Die stap was lank en warm, maar die pragtige kampplek, bekend as Hyena Rots, en die panorama uitsigte van bo met sondersgang, het die dag uit-en-uit die moeite werd gemaak. Van ons het onder die groot rots oorhang geslaap. Alhoewel vorige stappers al hier in hul drome deur Boesmans lastig geval is, was ons slaap vas en deur tot nog ‘n jubbelende sonsopkoms in Damaraland net na 6vm.

Dag 6 (22 km) was dit nog nie eens behoorlik warm nie, toe ons weer op ‘n horingaddertjie tussen ‘n plaat ronde swart dolomietklippe afgekom het. Vandag het ons roete langsaam begin daal terug na die Ugaprivierbedding toe. Na middagete en siesta het ons deur die klowe van oeroue riverlope heen gestap, en eindelik ons laaste kampeerplek in die droë, nie-standhoudende Ugaprivierloop aangetref. Ongelooflik die gevoude sedimente onderwegs wat meer as 200 miljoen jare se geologiese geskiedenis bedek.
By tye het die ravine aan die Visrivier herinner, maar net op baie kleiner skaal. Ons het vanmiddag selfs op ‘n fontein afgekom, met baie gemsbok en koedoespore in die klam modder. Kort hierna was daar ook luiperdspore in die sand. Die namiddag wolkies in die lug was ‘n fotografiese verrassing.
Buiten die Acacia erioloba’s en Tamariske, het ons in die rivierloop nou ook die pragtige Ana bome met hul wynrooi peule gekry. Die woestynolifante is baie lief vir hierdie vals akasia’s. Helaas was dit ons nie beskore om een keer op hierdie stap ‘n olifant te sien nie. Hulle was meer oos hierdie week.
Vanaand het ek maar in my tentjie ingekruip na die gemsbok steak maaltyd, want daar was te veel klein skerpioentjies wat in die sand buite rondgewriemel het.

Dag 7 (10 km) het ons effens minder entoesiasties as ander oggende die pad gevat – dit was immers die laaste dag. Die koel wolkbedekking was ‘n welkome begin van die dag. Binne die eerste kilometer se stap het ons ‘n steenbokkie broeipaar uit die ruigtes laat spaander. Ons het vinnig gestop by Save the Rhino se basiskamp vir verdere bewaringskwessie - en trofeejag informasie. Ons laaste paar kilometer was opdraend tot by ‘n ou tin myn (die eertydse Brandberg Wes Myn). Hier het EHRA se ondersteuningsspan ons met sjampanje ingewag.
Dit was stil in die voertuig al die pad via Myl 108 en Henties tot by Swakopmund. Nadat almal egter deeglik gestort en gewas het, en ons by die beach bar vir sundowners ontmoet het, het ons tonge behoorlik begin gons tydens die spesiale afsluitingsete by Kuki’s restaurant. Hierdie is die tipe ding wat ‘n mens meer van wil doen in jou lewe.

My gunsteling cliché is: “Ons leen hierdie land by ons kinders; ons het dit nie ge-erf nie.”

Vir meer inligting oor die jaarlikse “trek” en ander vrywilligerswerk rondom die woestynolifante, kontak:
Elephant Human Relations Aid (EHRA)
Posbus 2146
Swakopmund
Namibië
Tel/Faks: + 264 (0)64 504183
Epos: elephant@iway.na
Webwerf: http://www.desertelephant.org/